Dieselbeheerstelsel
Hierdie produk is ontwerp om beheer en aanteken van dieseluitreikings op die plaas te hanteer. Dit werk deur 'n behoorlik gemagtigde bestuurder, 'n behoorlik uitgekende voertuig en (opsioneel) 'n uitgekende kostesentrum te vereis alvorens dit diesel sal voorsien.
Dit maak van Dallas-drukknoppies gebruik om bestuurders, voertuie en kostesentrums te identifiseer. Ons gebruik in die algemeen geel knoppies vir drywers, blou vir voertuie en groen vir kostesentra.
Die hart van die stelsel is 'n elektroniese beheerkas, wat gebruik word om data te berg, en om 'n klep oop te maak of 'n pomp aan te skakel. Die beheerkas bevat 'n datamodule met data oor bestuurders, voertuie en kostesentra, en wat ook gebruik word om dieseltransaksies te berg. Dit kan sowat 1700 transaksies berg, maar moet verkieslik ook meer gereeld afgelaai word ten einde meer intydse data te kan weergee.
Nadat u die data afgelaai het (met behulp van 'n oorlaaistasie presies soos met ons klokstelsels) kan u die data wysig en aanvul soos nodig, voordat u verslae daarmee genereer. Die stelsel sal enige kritiese veranderings (bestuurder, voertuig, datum of tyd) wat verander word, onthou, en die oorspronklike oorgelaaide data altyd vir u vertoon sodat u kan sien watter veranderings gemaak is.
Ten laaste hanteer die stelsel voorraadhouding van diesel, deur dieselaankope en voorraadaanpassings te aanvaar, en dan vir u 'n voorraadlynverslag te skep.