Drukknoppie-gebaseerde stelsels
Die AfriKlok-reeks bestaan uit 'n paar modelle vanaf 'n vaste, vandalisme-weerstandige model tot 'n vol-draagbare en robuuste klok vir veldgebruik. Die klok word deur middel van Dallas-drukknoppies ("i-buttons") geaktiveer, en data word in 'n verwyderbare module geberg. 'n Suksesvolle klok-aksie word erken deur 'n vertoning van die datum en tyd, wat na 'n paar sekondes weer afskakel ten einde batterylewe te verleng. Bykomend hiertoe sal 'n groen liggie flikker, en 'n biepgeluid sal aandui dat die klok-aksie geregistreer is. Die alleenstaande klokke kan digby 8000 individuele klokbewegings berg, en dit is dus nie nodig om die data gedurig af te laai nie (100 werkers wat vier keer per dag klok, sal sowat 2400 rekords per sesdag-werksweek produseer). Herhaalde aanrakings van die klok word nie gelog nie, om geheue te beskerm. Op 'n periodieke grondslag (daagliks/weekliks/maandeliks) word die klok oopgemaak en die data-module uitgeruil. Elke vaste klok word met twee data-modules voorsien om onnodige ritte te voorkom, terwyl die draagbare modelle net met een module voorsien word, omdat die klok self tipies tot by die rekenaar gedra kan word om direk afgelaai te word.
Wanneer die data-module verwyder is, word dit in 'n klein oorlaaistasie by u rekenaar geplaas, die data word afgetrek, en dan in die rekenaar geberg, beskikbaar vir verdere verwerking. Wanneer die module klaar afgelaai is en suksesvol in die rekenaar geberg is, sal dit outomaties leeggemaak word, en die naamlys sal opnuut daarin geskryf word. Die stelsel maak voorsien vir die vertoning van 120 name. Indien u meer werkers het, sal die stelsel slegs die eerste 120 name vertoon, en sal die drukknopnommers vir die res vertoon. ALLE werkers se data sal wel korrek geberg en verwerk word hetsy die naam dan nou op die skerm vertoon al dan nie. U moet egter verkieslik nie die syfer van 120 ernstig oorskry nie, omdat u dan waarskynlik verkeersprobleme voor die klok kan verwag.
SPESIFIEKE ONTWERPVEREISTES:
- Geen onderhoud anders as periodieke battery-vervanging nie. Battery-leeftyd sal onder normale omstandighede ses maande tot 'n jaar wees, mits u alkaliese selle (byvoorbeeld Duracell) gebruik. Kwaai temperatuurskommelings en intensiewe klokgebruik kan hierdie tydperk wel verkort;
- Geen kragonderbrekings: Die klok werk heeltemal onafhanklik van eksterne kragbronne;
- Veilig teen weerligskade: Omdat dit geen eksterne kabels gebruik nie, is die risiko van weerligskade beperk;
- Die vaste klok is ontwerp om peuterbestand, vandalisme- en diefstalwerend te wees. Dit is binne-in 'n tipe mini-kluis gemonteer, die vertoonskerm is agter 'n uiters sterk en taai polikarbonaat-plastieklens gemonteer, en klokverstelling kan nie sonder die kluissleutel gedoen word nie;
- Opsionele beskerming teen son en water is beskikbaar as u dit teen 'n blootgestelde muur wil monteer;
- Dit kan op enige plek waar mense werk gebruik word, selfs in 'n voertuig of 'n terreinkantoor;
- Die sagteware is eenvoudig en maklik bruikbaar, maar nie minder kragtig nie;
- Die stelsel is moduler ontwerp en alle komponente kan maklik vervang word. Drukknoppies is goedkoop en maklik uitruilbaar, en die klok gebruik standaardbatterye. In die ergste geval, kan u klok vir twee of drie werksdae uit aksie wees, om toe te laat vir die aanstuur en uitruil van foutiewe komponente.